Lilypie Next Birthday Ticker

Hierdie blog het ten doel om ouers wat deur 'n soortgelyke ervaring gaan, hopelik te kan help en bemoedig. Dit word hoofsaaklik geskryf vanuit die Pappa se oogpunt en belewenis (hoewel Mamma ook van tyd-tot-tyd sal bydra) en behoort meestal oor naweke opgedateer word. Kom dus gereeld terug, want die hele ondervinding gaan deeltjie vir deeltjie beskryf word soos wat die tyd dit toelaat.

Indien u direk sou wou kontak maak, gebruik gerus een van die kommentare en laat u e-pos adres daar - dit word altyd gemodereer alvorens dit as 'n kommentaar verskyn en ons onderneem om niemand se e-pos adres ongevraagd te publiseer nie.

Sunday, October 21, 2007

Amperse floute - eers buite die teater!

(Ek vra verskoning vir die lang onderbreking. Was redelik besig gewees aan die einde van 2007. Het skoon gesukkel om my login en password te onthou na al hierdie tyd, maar hier is ons darem gelukkig nou weer!)

Terwyl die Ginekoloog besig was om my vrou toe te werk, het die Pediater my weggelei na die aantrekkamer waar ons die teaterdrag kon uittrek. Dit was net die twee van ons daar.

Hy het dadelik weggetrek met 'n verduideliking dat Heinrich waarskynlik nie sal kan loop nie, of in elk geval moeilik sal loop, heel waarskynlik nie aan sport sal kan deelneem nie, ens. Miskien het hy nog 'n paar ander dinge ook gesê en miskien het ek reeds 'n paar vrae beginne gevra; ek kan regtig nie meer onthou nie. Ek dink ek het onder andere naïewelik gevra of die velletjie nie tydens 'n langer periode in die baarmoeder sou toegegroei het nie (onthou, hy's bietjie vroeg gebore) en of sy toestand geneesbaar was . . . Ek het op daardie tydstip geen begrip daarvan gehad dat die onderliggende rugmurgsenuwees beskadig was nie, ens. (onthou, hierdie gesprek met die Pediater het 'n skamele 5 min. na die ontdekking plaasgevind). O ja, hy't ook verduidelik dat 'spina' verwys na die ruggraat en dat 'bifida' beteken dat dit in twee is, ma.w. die ruggraat het nie toegegroei tydens swangerskap nie en is dus gesplete in twee.

Wat ek wel baie duidelik onthou van daardie klein vertrekkie, was die skielike gevoel van flouheid wat oor my begin spoel het namate hy voort gerammel het. Gelukkig was ek op daardie oomblik sittende. Al die tekens was daar: 'n vlak gejaagde asemhaling, 'n sweterigheid, 'n snel toenemende lighooftigheid, ens. En in my binneste wou ek uitroep dat hy asseblief net sou ophou praat! Ja, ek het absoluut gebrand om te weet wat met my pasgebore kind verkeerd was en wat hierdie situasie alles behels, maar my hele stelsel het op daardie oomblik net eenvoudig onwillekeurig begin om af te skakel. Ek skat die nagmerrie ontdekking en daaropvolgende verdoemende nuus in die aantrekkamer was hopeloos te veel in so 'n kort rukkie . . .

Gelukkig het die Pediater eindelik gesien my gesig was so wit soos dié van 'n spook en my aangeraai om my kop tussen my knieë te druk. Ek het toe darem gelukkig nie die bobbejaan-ding gedoen nie en was baie verlig om einde ten laaste daai vertrekkie te kon verlaat en vars lug buite te skep!

Daar is egter 'n fyn balans wat 'n Dokter moet handhaaf tussen sensitiwiteit en die deurgee van inligting so kort na 'n skok ontdekking. Ek skat dit moes seker my vrae gewees het wat hom aan die gang gesit het, maar ek het ook ervaar dat hy met 'n effense "opgewondenheid" losgetrek het om te verduidelik - dit was seker maar die eerste Spina Bifida geval in daardie hospitaal, vandaar die opgewondenheid het ek eers later besef.
Later in die hospitaalkamer moes ek bontstaan om my vrou se trane te probeer stop. Haar eerste reaksie was 'n misplaaste skuldgevoel. Sy't gevoel dat sy iets verkeerd moes gedoen het tydens die swangerskap. Sy was dan juis deurgaans so uiters versigtig en verantwoordelik gewees. Ek het net daar besef dat ek die sterk een sal moet wees om hierdie wa nie in die drif van ongelukkige selfbejammering te laat vassit nie.
Daardie eerste week was sekerlik die moeilikste en onsekerste tyd in ons lewens gewees. Ons het te min verstaan, te veel gevrees en baie jammer gevoel vir beide Heinrich en vir onsself.

No comments: