Lilypie Next Birthday Ticker

Hierdie blog het ten doel om ouers wat deur 'n soortgelyke ervaring gaan, hopelik te kan help en bemoedig. Dit word hoofsaaklik geskryf vanuit die Pappa se oogpunt en belewenis (hoewel Mamma ook van tyd-tot-tyd sal bydra) en behoort meestal oor naweke opgedateer word. Kom dus gereeld terug, want die hele ondervinding gaan deeltjie vir deeltjie beskryf word soos wat die tyd dit toelaat.

Indien u direk sou wou kontak maak, gebruik gerus een van die kommentare en laat u e-pos adres daar - dit word altyd gemodereer alvorens dit as 'n kommentaar verskyn en ons onderneem om niemand se e-pos adres ongevraagd te publiseer nie.

Thursday, January 10, 2008

Brein sonar op Dag Een

My vrou het my tereg daarop gewys dat die brein sonar eintlik op Dag Twee gedoen was, d.w.s. die dag na sy geboorte (Maandag). Nou ja, ek het dit eintlik beskou as die eerste dag na sy geboorte, d.w.s. Dag Een, maar ek het darem al geleer om nie met vroulief te stry nie . . . :-) )

Buiten direkte familie, vriende, kennisse en ons Predikant van die plaaslike gemeente wat besoek kom aflê het, was die res van ons verblyf in daardie hospitaal relatief rustig gewees, d.w.s sonder verdere voorval of skokke.

Die Pediater het 'n paar keer besoek afgelê waartydens ons hom elke keer soveel moontlik probeer uitvra het om beter te verstaan wat verkeerd was en wat Heinrich se kanse sou wees om eendag te kan loop. Die vooruitsig dat sy loop in die gedrang kon wees, was definitief die allesoorheersende bekommernis in ons gemoed gewees op daardie stadium - dis die ergste wat ons gevrees het.

As ek nou terugdink, besef ek hoe min ons regtig van die ware toedrag van sake geweet het op daardie vroeë tydstip - wat alles regtig reeds fout was met hom en watter intense nasorg paadjie vir ons nog sou voorlê. Al wat ons op daardie stadium verstaan het, was dat sy rugwerweltjies laag onder nie toegegroei het nie en dat die blootgestelde rugmurgsenuweekoord in daardie area skade opgedoen het tydens swangerskap wat moontlik kan veroorsaak dat hy eendag nie sal kan loop nie, of altans nie normaal sal kan loop nie. Ons het geen vermoede gehad van enigiets anders wat fout was of nog verkeerd kon loop nie . . . Daardie skokontdekkings het eers later gevolg toe ons in Bloemfontein beland het (meer later daaroor).

Wat ons wel op daardie stadium geweet het, was dat Heinrich min of geen gevoel in die onderlyf gehad het nie - die Pediater het toetse gedoen en ons dit meegedeel. Hy het verduidelik dat daar as't ware twee bondels senuwees in die rugmurg is; die een is verantwoordelik vir die motoriese funksie (d.w.s. beweging) en die ander vir die sensoriese funksie (d.w.s. die gevoel). Dit wou dus voorkom asof laasgenoemde eerder beskadig sou wees, want ons het agtergekom dat hy sy bene darem kon beweeg. (Terwyl ek op hierdie punt is, is dit dalk nodig om te verstaan dat geen twee miëlomeningoseel Spina Bifida kinders noodwendig dieselfde mate van senuweeskade opdoen nie - elkeen se skade is verskillend in graad, maar sal óf die motoriese óf die sensoriese of beide funksies van die onderlyf affekteer)

By die besef dat hy dalk eerder 'n gebrek aan gevoel in die onderlyf het, het ek begin hoop kry dat hy wel sal kan loop eendag. Die Pediater het effe water daarop gegooi deur te verduidelik dat iemand wat nie kan voel nie, nie weet waar die grond is nie en dus nie sal weet wanneer om sy voet neer te sit om sodoende vorentoe te beweeg nie . . .

Die dag na sy geboorte, die Maandag, het die suster hom op 'n stadium kom haal en gesê dat hulle die wond wou skoonmaak en toemaak. Ek was welkom om saam te gaan as ek sou wou - 'n kans wat ek nie deur my vingers laat glip het nie. Gewapen met my digitale kamera het ek die eerste keer die geleentheid gekry om 'n fototjie te kon neem van die oop miëlomeningoseel. Die wondspan het die wond deeglik skoongemaak en toegeplak met 'n reuse ronde pleister wat blykbaar die vermoë het om 125ml se vloeistof te absorbeer.

Later die middag het hulle hom kom haal vir 'n brein sonar. Ek was effe onthuts, want waarvoor sou dit tog nodig wees om 'n brein sonar te doen? Was iets verkeerd met sy brein? Nee, is ek gerus gestel, dis net om te kyk of hy nie water op die brein het nie. Weereens het ons nie die vaagste benul gehad dat Hidrokefalus (waterkoppie) sinoniem verband hou met Spina Bifida nie - dat tot 70% van alle Spina Bifida kinders Hidrokefalus ontwikkel binne die eerste paar maande na geboorte en dat tot 90% dit sal ontwikkel binne die eerste 12 maande na geboorte. Met ander woorde, ons het die uitslag van die brein sonar beskou as die laaste woord daaroor: óf hy het water op die brein, óf hy het dit nie - end of the story . . . ! (sjoe, ons was darem baie verkeerd en oningelig gewees op daardie stadium).

My vrou het besluit om saam te gaan vir die sonar, en baie seer van die keiser die vorige dag het sy stadig saam die lang gang afgestap na die Radioloog se spreekkamer. Daar aangekom het ons lank op hom gewag. Eindelik was dit ons beurt. Jellie is op sy voorkoppie gesmeer en toe kon die Radioloog deur die fontanel openinge in sy skedeltjie sonars neem van die ventrikels binne sy brein. Die grootte van elke ventrikel is vergelyk met data van pasgebore babas en dit wou voorkom asof hy nie vergrote ventrikels gehad het nie, d.w.s. nie water op die brein nie. Ons was baie verlig gewees en soos reeds genoem, het ons nie die geringste idee gehad dat hierdie toedrag van sake nie staties sou wees nie . . .

Friday, January 4, 2008

Die eerste 2 dae na geboorte

Heinrich is in die oggendure van Sondag gebore. Ons het 'n verdere 2 dae in die hospitaal vertoef voordat ons die Dinsdagoggend om 10h00 ontslaan en na Bloemfontein oorgeplaas is (daar was geen operasies op hom uitgevoer in die hospitaal van sy geboorte nie).

In hierdie eerste twee dae het meeste van ons familie en vriende wat naby was kom kennis maak met onse "meerkatvlooitjie". Hul reaksie was uit die aard van die saak 'n mengelmoes van opgewondenheid, simpatie, besorgdheid en onsekerheid gewees. Dit was tog duidelik dat hulle ook tyd sou benodig om die skok te verwerk.

Hier beloer Oupie en Oumie hom enkele ure na geboorte vir die eerste keer:


En sy nuuskierige drieling nefie en niggies het ook nie gras onder hul voete laat groei om 'n goeie kyk in te kry van die nuwe familielid nie (die klein jakkalssterte!):

En raai wie voel 'n veer vir al die gekoer en oe-ah-ery rondom sy bedjie - niemand minder as die kleinheer 'Bambino' homself!:

Wat ek verder onthou van hierdie tyd is dat Heinrich op 'n stadium sulke fyn geluidjies gemaak het wat kompleet soos 'n meerkat s'n geklink het, vandaar die "meerkatvlooitjie" benaming. Hy't verder baie moeilik gedrink en die susters het "gedreig" om hom formule melk te begin voer - dan het vroulief maar weer van voor af gesukkel en probeer . . .

Van die susters en hospitaalpersoneel gepraat: hulle was van die vriendelikste mense wat ons nog ooit ontmoet het - ons was inderdaad geseënd gewees met uiters professionele en bedagsame versorgingpersoneel in daardie hospitaal.

Hier is ons heel eerste gesinsfoto sowat 13 ure na geboorte (lekker moeg en uitgeput!):

Sunday, October 21, 2007

Amperse floute - eers buite die teater!

(Ek vra verskoning vir die lang onderbreking. Was redelik besig gewees aan die einde van 2007. Het skoon gesukkel om my login en password te onthou na al hierdie tyd, maar hier is ons darem gelukkig nou weer!)

Terwyl die Ginekoloog besig was om my vrou toe te werk, het die Pediater my weggelei na die aantrekkamer waar ons die teaterdrag kon uittrek. Dit was net die twee van ons daar.

Hy het dadelik weggetrek met 'n verduideliking dat Heinrich waarskynlik nie sal kan loop nie, of in elk geval moeilik sal loop, heel waarskynlik nie aan sport sal kan deelneem nie, ens. Miskien het hy nog 'n paar ander dinge ook gesê en miskien het ek reeds 'n paar vrae beginne gevra; ek kan regtig nie meer onthou nie. Ek dink ek het onder andere naïewelik gevra of die velletjie nie tydens 'n langer periode in die baarmoeder sou toegegroei het nie (onthou, hy's bietjie vroeg gebore) en of sy toestand geneesbaar was . . . Ek het op daardie tydstip geen begrip daarvan gehad dat die onderliggende rugmurgsenuwees beskadig was nie, ens. (onthou, hierdie gesprek met die Pediater het 'n skamele 5 min. na die ontdekking plaasgevind). O ja, hy't ook verduidelik dat 'spina' verwys na die ruggraat en dat 'bifida' beteken dat dit in twee is, ma.w. die ruggraat het nie toegegroei tydens swangerskap nie en is dus gesplete in twee.

Wat ek wel baie duidelik onthou van daardie klein vertrekkie, was die skielike gevoel van flouheid wat oor my begin spoel het namate hy voort gerammel het. Gelukkig was ek op daardie oomblik sittende. Al die tekens was daar: 'n vlak gejaagde asemhaling, 'n sweterigheid, 'n snel toenemende lighooftigheid, ens. En in my binneste wou ek uitroep dat hy asseblief net sou ophou praat! Ja, ek het absoluut gebrand om te weet wat met my pasgebore kind verkeerd was en wat hierdie situasie alles behels, maar my hele stelsel het op daardie oomblik net eenvoudig onwillekeurig begin om af te skakel. Ek skat die nagmerrie ontdekking en daaropvolgende verdoemende nuus in die aantrekkamer was hopeloos te veel in so 'n kort rukkie . . .

Gelukkig het die Pediater eindelik gesien my gesig was so wit soos dié van 'n spook en my aangeraai om my kop tussen my knieë te druk. Ek het toe darem gelukkig nie die bobbejaan-ding gedoen nie en was baie verlig om einde ten laaste daai vertrekkie te kon verlaat en vars lug buite te skep!

Daar is egter 'n fyn balans wat 'n Dokter moet handhaaf tussen sensitiwiteit en die deurgee van inligting so kort na 'n skok ontdekking. Ek skat dit moes seker my vrae gewees het wat hom aan die gang gesit het, maar ek het ook ervaar dat hy met 'n effense "opgewondenheid" losgetrek het om te verduidelik - dit was seker maar die eerste Spina Bifida geval in daardie hospitaal, vandaar die opgewondenheid het ek eers later besef.
Later in die hospitaalkamer moes ek bontstaan om my vrou se trane te probeer stop. Haar eerste reaksie was 'n misplaaste skuldgevoel. Sy't gevoel dat sy iets verkeerd moes gedoen het tydens die swangerskap. Sy was dan juis deurgaans so uiters versigtig en verantwoordelik gewees. Ek het net daar besef dat ek die sterk een sal moet wees om hierdie wa nie in die drif van ongelukkige selfbejammering te laat vassit nie.
Daardie eerste week was sekerlik die moeilikste en onsekerste tyd in ons lewens gewees. Ons het te min verstaan, te veel gevrees en baie jammer gevoel vir beide Heinrich en vir onsself.

Sunday, October 14, 2007

Heuglike geboorte, nagmerrie ontdekking . . .

Presies twee ure nadat ons vervaart by die huis weg is, is Heinrich om 4h20 die oggend van sy Ma se verjaardag d.m.v. 'n keisersnee gebore. Hy het vanself sy opwagting gemaak op ongeveer 36 weke en het 2.73kg geweeg by geboorte. (Ja, toemaar dis nie net die Ma's wat sulke dinge kan onthou nie . . . :-) )

Hier staan ek reeds opgetof en neem solank 'n "meesterlike" selfportret in 'n ruit se refleksie terwyl ek nog buite die teatersaal moes wag:


En hier word my arme "voltand ooitjie" 'n paar minute later ter slagting gelei . . .


Nou-ja, ek is nou nie juis gesëen met 'n sterk maag om bloede te kan aanskou sonder om, om te dop soos 'n bobbejaan wat pas 'n slang gesien het nie, maar verbasend het ek die hele gedoente nogal heel oukei hanteer - selfs eenkeer oorgeloer en van nader bekyk. Baie gou is hy uitgehaal en het die Pediater en suster oorgeneem waar hulle hom onder die lig ondersoek en begin skoonmaak het terwyl die Ginekoloog die snit toegewerk het.

Hier maak hulle hom skoon:


Wat gebeur het toe hulle hom eindelik sou omdraai op sy magie, het nie een van ons verwag nie. . .

"Oeps! Ons het 'n 'klein' probleempie!" En met daardie enkele sin, onheilspellend dog só eenvoudig, maak die Pediater die aankondiging wat ons lewens van daardie oomblik af ingrypend sou laat verander het . . . Wat onbekende begrippe soos 'Spina Bifida' en baie ander ongevraagde en bykans onuitspreeklike mediese terme in een enkele oomblik aan ons lewens sou kom 'vassweis' het . . .

Ek het langs my vrou se bed gestaan, maar het duidelik die Pediater se woorde gehoor. Verras en geskok het ek dadelik oorgestap na die ondersoektafel. Die beeld van 'n "grass burn" so groot soos 'n gholf balletjie laag op sy ruggie begroet my toe ek daar kom. 'Ek hoop net nie dis te ernstig nie', sê ek vir myself, 'miskien is dit net die velletjie wat nog nie toegegroei het nie omdat hy dalk 'n paar weke te vroeg gebore is . . .?!' (Hoe naïef onkundig om so iets te gedink het, besef ek toe eers heelwat later)

"Wel, dit lyk soos Spina Bifida . . . " vervolg die Pediater verder. 'Watsegoed?!!' wonder ek by myself - en steeds hoop ek dis net nie te ernstig nie . . . Intussen het my vrou paniekerig begin navraag doen om uit te vind wat aangaan en het ek haar gaan probeer gerus stel.

Dit is hoe die oop miëlomeningoseel gelyk het:

(Hierdie foto is eintlik 'n dag later geneem toe hulle 'n baie groot pleister omgeruil het en die wond skoongemaak het - die rooi merke op sy ruggie en boudjies (regterkant) is waar die pleister gekleef het)

Hy is eindelik klaar ondersoek en toegedraai en tah-dahh. . . ! Nou kon Mamma en baba mekaar vir die eerste keer ontmoet - 'n vreugdevolle oomblik in ons gesinnetjie se lewens, maar terselftertyd oorskadu deur allerlei vrae en bekommernisse wat stadig maar seker besig was om soos 'n rivier-in-vloed my gemoed binne te stroom!):


Friday, October 12, 2007

Groot gehaas na die hospitaal!

Op aanbeveling van die Ginekoloog is daar besluit dat Heinrich d.m.v. 'n keisersnee die lig sou sien. So gesê, so gedaan en die datum is vasgestel op 12 Oktober 2005. Die afwagting van die laaste paar weke was intens vir die kort Mamma met haar yslike maag, soveel so dat sy sommer twee weke voor die tyd alreeds haar hospitaaltassie met allerlei babakleertjies en sagte kombersies gereed gehad het! Pappa aan die ander kant is maar oor die algemeen 'n "last minute man", want waaroor nou al die haas, daar's mos nog hópe tyd . . . !

Sondagoggend (die 2de Oktober) maak my vrou my om 2h00 die oggend wakker en sê sy dink dit is nou súlke tye. . . ! Heel oorbluf omdat ons net 'n uur vantevore gaan slaap het en sy toe nog heel OK was, is ek eers baie skepties oor wat nou hier voor my afspeel. . . Is ek regtig wakker? Is sy nie dalk besig om in haar slaap te praat nie? Dis dan nog 'n héle tien dae weg! Die kind kan tog nou nie op sy Ma se verjaardag wil kom nie - sulke toeval bestaan net nie?! Die daaropvolgende kyk van vroulief se kant het my sonder twyfel laat besef dat ek nodig het om met die spoed van witlig 'n rat te vang - énige rat . . . !

Twintig minute later, met kontraksies reeds 4 minute uitmekaar, druk ons die Camry se neus met vervaarde spoed in die rigting van die groter naburige dorp sowat 80km daarvandaan waar die keiser geskeduleer was - ek klaar gepak en al die ander goete ook reeds in die kar geboender!

Verdeksels! Moes hulle juis op hierdie stadium aan die pad werk waar eenrigting robotte mens vir tot 15min op 'n slag kan vertraag?! Ons besluit op die alternatiewe ompad wat die tog uitrek na 110km en in my geestesoog sien ek al hoe vang ek vir baba in die maanskyn êrens langs 'n verlate mielieland met 'n eensame jakkalsroep dan-en-wan in die agtergrond . . . Sidderend aan die gedagte, trap ek die spyker plat en op 'n kol toe ek in my truspieëltjie kyk, merk ek hoe die vonke vir nog 'n paar sekondes op die teer ronddans in die donkerte nadat die onderstel skraap toe ons teen 180km/hr deur 'n effense driffie in die pad "vlieg". . .

Na 'n tog wat soos 'n ewigheid gevoel het en my senuwees rou van al die kere as my vrou die tydsduur neem en beangs opmerk dat die pyne al nader aanmekaar word, hou ons 45 minute (!) later by die voordeur van die hospitaal stil. Sy word dadelik met 'n rolstoel ingestoot waarna 'n monitor aan haar gekoppel word om die intensiteit en frekwensie van die kontraksies te meet.

En vir die eerste maal kry ek 'n effe van 'n breuk, slaak 'n groot sug van verligting by die besef dat ons dit gemaak het, vee vir die eerste keer die slaap uit my oge en raak heimlik opgewonde oor hierdie verwikkeling en die tydige verjaardaggeskenk wat moontlik vir my vrou oppad is . . .

Die vriendelike suster laat geen gras onder haar voete groei nie en die Ginekoloog, Pediater en Narkotiseur word wakker gebel en ontbied. As ek enigsins tot op hierdie stadium nog getwyfel het, besef ek nou onteenseglik dat dit werklik aan't gebeure is!

Sunday, October 7, 2007

Agtergrond en swangerskap

Miskien is dit gepas as ons eers net afskop met bietjie agtergrond oor onsself en die swangerskap.

Pappa is 'n ingenieur en Mamma 'n apteker en ons verskil sowat 11 jaar in ouderdom van mekaar. Ons woon tans in Johannesburg waar Pappa by 'n telekommunikasie maatskappy werk. Mamma is sedert die geboorte by die huis om, om te sien na ons eige kleine "meerkatvlooitjie"!

Ons was sowat twee jaar getroud voordat Kabouter sy opwagting gemaak het. Mamma het maklik swanger geword en vanweë die feit dat dit 'n beplande swangerskap was, het sy reeds etlike maande vooraf getrou haar foeliensuurpille gedrink en daarmee volgehou tot en met die einde van die eerste tri-semester van die swangerskap. (Meer oor die invloed van foeliensuur 'n bietjie later)

Rondom die agtste week van swangerskap was daar 'n effense gevaar van abortasie en het die Ginekoloog haar 'n paar dae van die werk afgeboek om net rustig te wees. Dit het gehelp en daar was geen verdere komplikasies nie. Op daardie stadium was Mamma werksaam by 'n Vrystaatse plattelandse hospitaal in die vervulling van haar "Zuma"-jaar as apteker.

Ons het getrou die Ginekoloog rondom die vierde week gaan sien vir 'n ondersoek en sonar en teen die einde moes ons hom elke tweede week besoek het. Hy het nooit onraad vermoed nie en ons glo dat ons Vader in die hemel dit ook so beskik dat hy nagelaat het deur nie 'n standaard bloedtoets op 16 weke uit te gevoer het nie, want dan sou die diagnose dan reeds bekend gewees het . . .

In retrospek is ons baie dankbaar dat dit nie vooraf opgetel was nie, maar meer daaroor bietjie later.

Inleiding

Ons is die ouers van 'n pragtige seuntjie wat sowat 2-jaar gelede met Spina Bifida gebore is (Okt-05). Die blog word dus afgeskop op daardie tydstip toe ons reeds twee jaar met die paadjie af is en ons gaan probeer om in retrospek ons ervaringe tot op hede met u te deel - en dan ook verder soos wat ons aangaan.

Die primêre doel met hierdie blog is om ouers by te staan met raad, kennis en persoonlike ervaring juis op daardie tydstip wat dit lyk asof die donkerste oomblik van hul lewens aangebreek het met die ontdekking dat hulle 'n SB kind gaan hê. Bowenal spreek ons die hoop uit dat ons hulle sal kan bemoedig en aanspoor om hul uitkyk so gou moontlik positief daaromtrent aan te pas, want daar is beslis baie goeie rede vir hoop asook 'n wonderlike verwagting van geseënde ouerskap wat voorlê - dit kan ons u verseker vanuit ons ervaringe tot op hede!

Ons gaan egter nie doekies omdraai en maak asof dit maklik is om 'n SB kind groot te maak nie, maar aan die ander kant wil ons ook graag illustreer dat jou lewe nie noodwendig hier hoef te eindig met die ontdekking dat jy 'n SB kind oppad het nie. Allermins! Jy sal hopelik gou ontdek die mens is sekerlik een van die mees aanpasbare wesens wat bestaan en met die regte uitkyk, kan mens jou SB kind net so baie geniet soos enige ander ouer sy/haar normale kind geniet / waardeer. Hulle is absolute geskenkies direk uit die hand van God!

Met verloop van tyd hoop ons om o.a. die volgende onderwerpe te dek in mindere of meerdere mate (en selfs baie meer soos wat die gedagtes by ons opkom / terugkom of soos versoeke moontlik gerig mag word):

  • Inligting omtrent Spina Bifida (SB) en verwante probleme / defekte
  • Ons emosionele ervarings tydens en na afloop van sy geboorte (en selfs heelwat later)
  • Mediese ervarings
  • Waarskuwing teen mites en wanopvattings van oningeligte hospitaalpersoneel wanneer jou eie kennis maar nog bra skraps is
  • Ons benadering tot ons lotgeval
  • 'n Beskrywing van ons daaglikse / weeklikse roetine met 'n SB kind
  • Gereelde terugvoer oor sy vordering (eers nadat ons opgevang het met die wedervaringe van die voorafgaande twee jaar tot op hede)
  • Inligting oor ondersteuninggroepe, SB Klinieke, SB assossiasies, ens.
  • Ensovoorts . . .

U sal merk dat hierdie blog baie duidelik bedryf word vanuit 'n Christelike perspektief, daarom glo ons ook dat niks in die lewe toevallig met 'n mens gebeur nie. God wat u en my gekies het om 'n SB kind groot te maak (trouens, enige kind!), sal ons ook die nodige krag en instaatstelling gee om dit te kan hanteer. As dit juis ons Heer se wil was om ons 'n SB kindjie te geskenk het sodat ons eendag 'n Blog soos hierdie op die been sou bring om andere daarmee te kan help en bedien, dan maak sy kosbare lewetjie reeds soveel te meer sin en dan loof en dank ons Hom vir die geleentheid en praktiese smeltkroes waardeur Hy ons geplaas het om iets so groots akkuraat en met die nodige gesag te kan aanpak. Soli deo Gloria!

Wat hierdie blog nie is nie:

  • Dis baie beslis nie 'n oefening gemotiveer deur selfbejammering nie (ons is lankal reeds verby daardie punt - u kan daarvan seker wees!)
  • Dis ook nie 'n aanspraak daarop dat SB die ernstigste afwyking is wat daar in mediese boeke opgeskryf staan nie. Baie beslis nie! Ons harte gaan veral teer opreg uit na daardie ouers met kinders waarvan die afwyking meer ernstig is as SB.
  • Dit maak ook nie aanspraak op 'n mediese bedrewenheid wat ons begrip van sekere mediese terme en definisies wil probeer voorhou as die absolute korrekte weergawe nie. Dit kan wees dat ons begrip / persepsie van sekere mediese terme steeds nie 100% akkuraat is nie - selfs twee jaar na sy geboorte - maar ons wil tog glo dat ons teen hierdie tyd reeds 'n goeie idee het van waaroor dit gaan.

Daar is heelparty verwante neurale buis afwykings - so hierdie blog is nie net bedoel vir SB gevalle nie - miskien kan u as ouer van 'n kind met 'n verwante gebrek ook hier baatvind en uself daarmee identifiseer.

Laastens, die blog is ook bedoel om ouers van "normale" kinders bewus te maak van wat Spina Bifida is en dat hulle nie sommer hul kinders se gesondheid as vanselfsprekend moet aanvaar nie - inteendeel, ons as ouers moet almal elke dag opnuut dankbaar wees vir ons kinders se gesondheid, want selfs gesonde kinders se gesondheid en lewensdraad is nie gewaarborg tot en met volwasse ouderdom nie - daarvan kan baie ander ouers getuig.

WAARDEER DUS U EN U KINDERS SE GESONDHEID, dit is gewis 'n gawe van God!

Gee ons gerus terugvoer d.m.v. die kommentaar funksie as u sou wou!

Ons dank aan ons Hemelse Vader vir tegnologie soos hierdie om dan ook ander mense mee te kan bedien en te bemoedig wat in soortgelyke omstandighede as ons verkeer.

Ons hoop u geniet hierdie blog - baie welkom hier!